Corné Edwards het ‘n obsessie met lap. In haar werk as grafiese kunstenaar en modeontwerper is sy nie net gepla met die patroontjies op die lap nie. Sy gee ook om waar dit vandaan kom. Mari Beukes het met haar gaan gesels oor haar omgewingsvriendelike klerereeks en die idee dat klere nie net hergebruik nie, maar ook herwin kan word.
Die lig stroom wit deur Corné se woonstelvensters. Dit weerkaats oor die vloer se houtpatrone en teken ‘n blink randjie om haar gesig en kort geknipte swart hare. Waar sy in die hoek van die vertrek sit, lyk sy amper te fyn en te weerloos mooi om alleen in so ‘n groot, oop ruimte te woon, soos ‘n skoenlapper alleen in ‘n groot glasfles.
Op die tafel in die hoek oorkant haar, is weer van ruimte nie sprake nie. Gekleurde materiaal lê ooral versprei in netjiese stapels en omgetuimelde hope. ‘n Naaldwerkmasjien, omkapmasjien en die punt van ‘n strykyster steek skaars onder die materiaal uit. Alhoewel Corné ‘n grafiese kunstenaar van beroep is, lê haar eintlike passie by klere en modewerp.
Iets anders is lekker
‘Ek het nog altyd ‘n liefde vir lap en klere, en ek maak al my hele lewe lank my eie klere. Dis mos maar altyd lekker om iets te dra wat niemand anders het nie.’
Sy begin opgewonde vertel oor die deeltydse ‘patroonkursus by die technikon’ waarmee sy besig is en van haar nuwe werk by die township. Hierdie sosiale onderneming verskaf werk as kleremakers aan vroue wat in townships woon en vind die inspirasie vir hul materiaal – en klereontwerpe in die kleure en teksture van die townships self. ‘Wag, ek is ‘n visuele mens, ek moet jou wys.’ sê sy.
Sy soek na die ontwerpe op haar rekenaar en skuifel dan met haar stoel na die ketel om koffie te maak. Ons eet sjokolade piesangbrood en begin oor Kottonree, haar eie reeks van omgewingsvriendelike klere, gesels.
Katoen slurp `n klomp water
Kottonree het aanvanklik ontstaan as deel van ‘n projek in die finale jaar van haar graad in Visuele Kommunikasie, by die Universiteit Stellenbosch. Sy het ekovriendelike mode, ‘n nuwe neiging, wat reeds gewild is oorsee, maar nog nie regtig in Suid-Afrika posgevat het nie, begin ondersoek.
‘Ek het eers gefokus op katoen. Dit is die mees onvolhoubare lap wat daar is. Om net een 1kg katoen te maak is tussen 10 000 en 20 000 liter water nodig. En 1kg is basies gelykstaande aan ‘n hemp en ‘n jean.’
Hierdie navorsing het haar by die idee van die herwinning van klere gebring; en die gedagte dat ou klere nie net hergebruik kan word wanneer dit aan liefdadigheid geskenk word nie, maar dat dit deur ontwerp en kreatiwiteit in heeltemal nuwe klere omskep kan word.
Groen is wat jy reeds het
‘Die ‘groenste’ klere wat ons het is bestaande klere. Dis die klere wat ons klaar het. En ek dink as jy werk met bestaande klere kom daar sulke unieke vorms en patrone uit.’
Die van die omgewing was egter nie die enigste inspirasie vir Kottonree nie.
‘Ek het gedink, dis nou great, ons herwin klere, maar wat kan ons nou daarmee doen?’
Haar kursus het vereis dat sy ‘n nie-regeringsorganisasie in haar werk inkorporeer het en Corné betrokke geraak by die Stellenbosch Hospice. Die Hospice verskaf daaglikse sorg aan pasiënte met veral kanker, tuberkulose en MIV-vigs, asook mense met fisiese gebreke. Sy het begin kyk na hoe klere hierdie mense se lewens gemakliker gemaak.
‘Hulle het eintlik op ‘n manier die klere vir my ontwerp deurdat ek kon kyk wat hulle behoeftes was.’
Behoeftes bepaal haar werk
Van die ontwerpe wat sy uit hierdie proses geskep het, is ‘n baadjie met ‘n korter agterste pant, sodat iemand in ‘n rolstoel gemakliker kan sit as hy dit dra. In ‘n hempsontwerp verbloem horisontale strepe weer die vernouing van iemand se skouers.
‘Kottonree is omgewingsvriendelike klere, maar dit het ook gemakseienskappe. Daar is ‘n element van fun en van speel daarin.’
Een van Corné se aweregse ontwerpe is ‘n baadjie met ‘n rits-sluiter in die middel van die rug af. Jy kan die baadjie letterlik in twee helftes rits. . . Die middelste paneel oor die bors van ‘n ander baadjie, wat sy onlangs vir die akteur Neels van Jaarsveld ontwerp het, kan ook heeltemal uitgerits word. Dop jy een van haar rokkies om, is daar ‘n nuwe patroon op materiaal – eintlik ‘n nuwe rokkie – aan die binnekant.
Veeldoelig en tydloos is eko
‘Volhoubare klere is baie meer as net organiese lap,’ verduidelik sy. ‘Dit kan ook klere wees met meer as een doel. Of dit kan tydlose styl wees – basiese kledingstukke wat jy die res van jou lewe kan hou.’
Sy kyk rond en fladder met haar hande as ek vra waar die inspirasie vir die ontwerpe self vandaan kom. Hoekom die aardse kleure, vaal bloue en koraalrooie? Hoekom die eenvoud? ‘Ag, ek weet nie. Dit kom maar net vanself.’
Ek kyk na die collage van sketse, aandenkings en tydskrifknipsels op die muur langs die rekenaar: ‘n Kaartjie oranje knope, ‘n foto van James Dean,’n maroen kous, groen en pienk kleurkaarte en ‘n rooi papierwaaier. Ek besef dat die visuele elemente waarmee Corné haarself omring verklap baie meer oor haar as wat sy self bereid is te ontbloot. Daarom vra ek of ek die woonstel mag afneem.
Kreatief met alles
‘Ja, wag, hierdie sal mooi wees om af te neem.’
Sy sit ‘n hout krat vol helderkleurige ritssluiters op die vloer neer. Dan ‘n stapel opgevoude lap: fyn rooi blommetjies, blou en wit strepies, vroue in tradisionele Afrika-drag op ‘n pepperment-agtergrond.
Ek skuifel in die vertrek rond om die dekor af te neem. ‘n Hout leertjie dien as boekrak. Die boeke leun gemaklik teen die een kant. The Fashion Book se voorblad krul effe om. Op die trappie onder dit lê Contemporary Graphic Design en Malcolm Gladwell se Outliers gestapel.
Tussendeur my foto’s vra ek oor haar stokperdjies. Wat doen sy wanneer sy nie besig is om klere te maak nie? ‘Ag, ek weet nie. Ek swem in die see. Ek ry fiets. . . Nee! Wat maak jy nou?’
Skoenlapper in die vles
Sy kom baie gou agter toe die kamera na haar toe draai. Dit maak haar ongemaklik, want sy is gewoonlik die fotograaf. Sy lag en iets van die weerlose skoenlapper is weer terug.
‘Hoe sal jy voel as ek jou nou moet afneem?’
‘OK, jy kan,’ sê sy.
Sy lag nog harder as ek my kamera van my nek afhaal en vir haar gee. Sy verstel iets en ons albei lag.
‘Wag, hou jou hand so met die pen. En jy moet bietjie meer vir my kyk.’
Later die middag kyk ek na die foto’s. My foto’s van Corné is uit fokus uit en sy bly weg kyk. My eie gesig verskyn egter perfek skerp op die skerm. Miskien is dit die beste manier om ‘n gesprek met ‘n kunstenaar te voer. Om minder te luister en meer te kyk.
Skoenlappers is maar moelik om te vang…
By Mari Beukes
Leave a Reply or Follow