Hoe boer mens koolstof-neutraal?

Monday, 16 April 2012 15:41

Hoe op aarde boer jy intensief sonder om koolstofdioksied te produseer?

‘n Kollega vertel my van Backsberg se koolstofneutraliteit (al sedert 2006) en ek hoor iets daarvan oor die radio. ‘n Hele nuwe konsep vir my. Ek maak ‘n afspraak met die eienaar Michael Back. Sy eerste vraag aan my: “How serious are you about organic farming?” betrap my onkant en ek mompel iets van “volhoubaarheid is vir my belangrik”. Onder die uitheemse akkerbome om ‘n tafel met heerlike koffie, sap en eetgoed, gesels hy met so 10 van ons, heel informeel.

Michael is die derde generasie Back op Backsberg en is hoofsaaklik ‘n wynboer, maar boer ook met spesialiteitsvrugte op ‘n kleiner skaal. Ongeveer 5-6 jaar gelede het hy baie gelees oor klimaatsverandering en begin nadink oor die toestand van sy plaas en wat hy aan sy seun kan nalaat. ‘n Plaaseienaar “besit” sy grond vir slegs ‘n baie kort tydjie.  

Versorging of verkragting?

“Have I looked after my land in this brief period, or did I rape it?” het Michael homself afgevra en so het hierdie proses begin.

Elke keer wat wingerde aangelê word, word bosse en bome uitgekap. Aanvanklik het hy gedink hy doen die regte ding toe hy reuse dennebome uitgekap het – hulle is immers uitheems.  Nou is hy egter spyt daaroor, want bome is en bly ‘n hernubare energiebron. Vandaar die pragtige akkerbome waaronder ons kon kuier. Tans is 10% van die plaas opsygesit vir die bewaring van fynbos vir die plaas se biodiversiteitsinisiatief.  

Maar sy uitheemse bome bly – solank ‘n boom groei, sal dit koolstofdioksied verbruik en kan dit gebruik word. Hy glo alles gaan oor balans, ook tussen inheems en uitheems. Natuurlik sorg hy dat sy bome nie na naburige grond versprei nie.  “Something is only a problem when it is not utilised”. (Hy wens hy kon waterhiasinte in Klapmuts se uitvalwerke KWEEK vir hernubare energie en sodoende ‘n goeie nut vind vir ‘n plant wat tans as ‘n probleem beskou word.)

backsberg - leaves in the hand

Kopskuif is nodig

Die beginsel waarvolgens hy gewerk het, was “Met hoe min kan ons klaarkom?” Hy het ‘n interne oudit op die plaas gedoen en vrae soos die volgende gevra:  

  • Hoeveel kubieke meter sement, hout, vlekvrye staal, vervaardigde staal (voertuie) ens. word op die plaas gebruik?  
  • Regverdig sy vlakteplaas ‘n duur 4x4 voertuig of is dit net om sy ego te streel? Tans ry hy self ‘n Bantambakkie en sy bestuurders kan tussen ‘n Bantam en ‘n Corsa kies.
  • Is groot trekkers geregverdig? Hy het toe geleidelik sy groot trekkers met klein trekkers vervang en net die gewigsverspreiding op die driepunt verander sodat die kleiner trekkers steeds dieselfde werk kon doen. Onmiddellik het die kapitale uitleg aan voertuie, die brandstofverbruik, die koolstofdioksiedproduksie, asook die impak van die trekkers op die grond drasties gedaal.
  • Waarom word die prieëlpale in die wingerd 6m uitmekaar geplant? Hy het dit so geërf en sy wingerdbestuurder het ook nie regtig geweet hoekom nie. Hy kry toe ‘n stgrukturele ingenieur om ‘n paar sommetjies te maak en hulle bereken dat pale 7m uitmekaar steeds sterk genoeg sal wees om die wingerd te dra. Alle nuwe priële word nou so gebou en die besparing aan hout sowel as die vervoerkoste daarvan is beslis beduidend.  

backsberg - tractors

Pragmaties ingestel

Michael het voorheen‘n paar blokke wingerd gehad wat hy organies bedryf het, dus reken hy dit is maklik vir hom om vergelykings tussen die twee te tref. Hy reken dat daar baie faktore rondom organiese boerdery is wat nog nie genoeg nagevors is nie. Hy moes byvoorbeeld tot drie keer in die organiese blokke organiese middels spuit terwyl dieselfde probleem slegs een keer bahandel was met konvensionele chemiese produkte in die konvensionele blokke. Dus was die impak van die trekkers, die gebruik van brandstof, die geld in tyd asook die produksie van koolstofdioksied drie keer meer in die organiese blokke en die vraag ontstaan nou: watter een is werklik meer volhoubaar? Hy is uiters pragmaties wanneer dit by nuwe dinge kom: as dit werk, sal hy dit doen, as dit nie werk nie, soek hy ‘n alternatief.

Volgens die koolstofoudit wat hy van sy boerdery laat doen het, was sy grootste lopende uitgawe energie (brandstof en elektrisiteit) en nie chemikalieë nie. Met toenemde druk van die mark om laer koolstofvoetspore te soek in boerdery, was dit maklik om die aanpassings te maak. Al die aanpassings het aanvanklik geld gekos, maar hy het ons oor en oor verseker dat dit ekonies regverdigbaar was.  

backsberg - the dark of morning

Geen heilige koeie hier nie!

Hy reken dat daar geen “heilige koeie” in boerdery hoort nie. ALLES is onderhandelbaar en slegs die beste metodes behoort geïmplimenteer te word, nie die histories aanvaarbares nie.

Een van die fundamentele beginsels wat hy toepas, is om die perspektief van produksie by wingerde anders te benader. Hy reken dat ton per hektaar ‘n skewe beeld van die produksie gee en dat die hoeveelheid vrugte per vierkante meter  blaardak (“canopy”) heelwat meer inligting oor die produksiekapasiteit van die plant gee.  

Sy wingerdrye is 3.6m uitmekaar, heelwat wyer as die “aanvaarbare” afstand, maar dis só uitgelê dat dit as’t ware na mekaar toe leun. Op díe manier het hy die drag per stok verhoog, maar die afstand wat gery moet word, die mense nodig vir die werk asook die koolstofdioksiedproduksie verminder. Sy rooiwyn word met damwater met behulp van gravitasie verkoel nadat hy gehoor het dat alle water in die Wes-Kaap 3-4m onder die oppervlakte konstant tussen 14 en 15 oC bly.

backsberg - different bottles

Die inlaatpyp van die water wat in die koeltoring gebruik word, is nou 4 meter onder die oppervlak van die damwater en hierdie koel water vloei met gravitasie na sy kelder, waar dit die tenks verkoel. Die water word met sonpompe teruggevoer na die dam. Die feit dat hy snags 3vm begin oes, verminder ook die energieverbruik vir verkoeling – maar nou moet sy plukkers koplampe dra!

Hy reken dat hy niks uitgevind het wat nie reeds deur iemand anders gedoen word nie. Hy doen slegs sy bes om minder te gebruik en dinge oor en oor te gebruik. Daarna word alles moontlik herwin.  

Hy boer slegs op 80% van sy grond, want buiten die 10% wat vir biodiversiteit uitgehou word, word 10% van sy plaas ook gebruik vir die verbouing van hernubare energie. Hy het ‘n magdom bamboesplantjies buite-om die plaas en ander marginale gronde geplant. Saam met saagsels en afval van ‘n nabygeleë saagmeule en hout van sy eie uitheemse plante op die plaas, wil hy sy eie elektrisiteit opwek tydens die maak van bio-houtskool (bio-char). Die gas (syn-gas) wat deur hierdie proses as neweproduk geproduseer word, kan dus as brandstof vir sy kragopwekkers dien. Die houtskool word dan as grondaanvulling gebruik wat ook die koolstofsekwestrasie verbeter.  

Sedert 2010 is Backsberg die eerste wynplaas om gersertifiseerde wyn in ‘n sagte poli-etileen terefalaat (PET) bottel te bemark. Die bottels gebruik 50% minder energie en produseer 55% minder kweekhuisgasse gedurende vervaardiging as ‘n soortgelyke glasbottel en is 100% herwinbaar. Terselftertyd het dit slegs 0.125% van die massa, wat die vervoer van die wyn aansienlik goedkoper maak.

Hoe nou?

Die vraag onstaan nou: hoe gemaak as iemand sy plaas ook koolstofneutraal wil bedryf? ‘n Goeie begin is om self ‘n interne oudit te doen: wat is die minimum waarmee die plaas kan klaarkom en steeds ‘n wins maak? Watter “sagter” alternatiewe is plaaslik beskikbaar? Jaag dus die heilige koeie van “dis hoe dit nog altyd gedoen is” onmiddellik van die plaas af!

Daarna moet die kenners ingeroep word vir die koolstofoudit – gelukkig is hulle reeds plaaslik beskikbaar en kan via die internet gekontak word. Een so ‘n webwerf is dit hierdie wat veral op die wyn- en vrugtebedryf konsentreer.

As ‘n laaste gedagte het Michael ons verseker dat al sy “uitvindings” deur ander uitgevind is. Sy ore is oop en hy ploeg graag met ander mense se kalwers. Moet dus nie huiwer om kenners te nader nie, selfs al kos dit geld. Foute kan baie duur wees.

By This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Additional Info

blog comments powered by Disqus
blog comments powered by Disqus