
Oorsprong van die Bloemspruit (Werner Schmidt)
Bakkie stoei deur ‘n stroom swembad ‘backwash’-water in Dersleystraat. Bayswater. Bloemfontein. Draai in by De Witt’e Gastehuis. Duinkleurige cargo-broek, ligtepienk uithang-knoophemp, moue effens opgerol. Ronde kaal kop met swartraambril. Parkeer, eienaar wys waar die perskonferensie gehou gaan word. Sluit aan by ‘n groepie joernaliste en Afriforum verteenwoordigers.
‘Hallo, ek is Werner, van thegreentimes.co.za.’
‘Ivan Herselman, Afriforum Bestuurder: Gemeenskapsportefeuljes.’ Hande word geskud. Ivan se swart hemp en baadjie sluit aan by sy kortgeskeerde hare en baard. Bruin oë.
‘CW Els, Afriforum Organiseerder: Vrystaat.’ Swart hemp, beige baadjie, blou oë met kort, bruin hare en baard.
‘Ons wag nog so vyf minute,’ sê CW, neem ‘n selfoonoproep, waarna hy hom weer by die groepie aansluit.
‘Dis die mense van die SABC, soek aanwysings na die gastehuis. Ons kon nie ‘n ander plek kry op sulke kort kennisgewing nie.’
‘Flow-shedding’ in Mangaung?
‘Flow-shedding is aan die gebeur in Mangaung, volgens gerugte,’ sê iemand.
‘Wat is flow-shedding?’
‘Kom ek stel dit so, dis soos Eskom se load-shedding, net met water.’
Die groepie volg die Afriforum-mense na die konferensiekamer.

Afriforum stel waterverslag bekend (Werner Schmidt)
CW en Ivan gaan sit agter ‘n wit tafeldoek. Afriforum-baniere is hulle agtergrond.
‘n Ry gebottelde water op die tafel, verminder deur mediaverteenwoordigers tot daar vyf oor is. LIFE staan op al die bottels se etikette gedruk in dik wit letters op ‘n blou agtergrond.
CW verwelkom lede van die plaaslike-, streeks- en nasionale media. Afriforum (AF) het die perskonferensie byeengeroep omdat die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit (MMM) versoek is om dringend met AF te vergader, maar het na verloop van bykans twee weke nog geen aanduiding van vergadergewilligheid gegee nie.
50% van Mangaung se water verdwyn?
Mangaung bestaan uit Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu. Huisves omtrent 750 000 mense. Dit is die hoofstad van die Vrystaat, en Bloemfontein is die geregtelike hoofstad van Suid-Afrika.
AF se waterverslag handel oor die stand van sake (Deel 1) en aanbevelings ter verbetering (Deel 2). Volgens Deel 1 Iyk die stand van watervoorsiening aan MMM inwoners as volg, as geen gefokusde intervensie geskied nie:
Volgens Deel 2 is MMM die ‘metro’, uit die 8 Suid-Afrikaanse ‘metro’s’ met die:
- Laagste gemiddelde jaarlikse reënval
- Hoogste aangetekende waterverliese, 50.3% nie-inkomste water per volume (gesuiwerde water wat nie gefaktureer word nie), vergeleke met die Suid-Afrikaanse gemiddelde van 34.7% en die Afrika-gemiddelde van 36%
- Oudste infrastruktuur in terme van waterverspreidingspyplyne, en
- Word beskou as die ‘metro’ wat die langste neem om verouderde infrastruktuur te vervang
‘MMM het Oktober 2013 die DA se waterbeperkings-mosie van die tafel gevee,’ gaan CW voort, ‘en hulle ignoreer die onlangse waterbeperkings afgekondig deur die Departement van Watersake. Afriforum gaan hulle aanmaan hieroor, en ons sal nie skroom om die MMM hof toe te vat nie. Is daar enige vrae?’
Sal ‘n hofsaak water dra?
‘Sal julle saamwerk met enige organisasies wat reeds aan die waterkwessie werk?’ ‘Definitief,’ antwoord CW, ‘as burgerregte organisasie wil ons so vinnig moontlik by ‘n volhoubare situasie uitkom. Belangrik om te let daarop dat ons nie ‘n politieke beweging is nie.’
‘Het julle al enige aanduiding van ‘n vergaderdatum met MMM?’
‘Nee, ongelukkig nie, en daarom die persverklaring. Ons gaan aanhou probeer.’
‘Hoe lank is die waarskynlike waterlose tyd in die areas waar water heeltemal kan opdroog?’
‘Volgens ons vooruitskattings enigiets van 2 tot 3 maande.’
Die hele sessie word herhaal in Engels vir die SABC verteenwoordigers, wat dit opneem. Die ander mediamense maak laaste aantekeninge, waarna van hulle na die gastehuis se stoep loop.
Koffie en spekulasiekoekies
Gevriesdroogde kitskoffie word gemaak. Kraakvars croissants gevul met eier, uie, mayonaisse en ingelegde soetrissie word saamgedra na die groot stoeptafel toe. Sitplekke word ingeneem in die koel herfsskaduwee.
‘Hierdie is maar net weer ‘n bewys dat daar nie holistiese streeksrapportering oor die omgewing, deur die media gedoen word nie.’
‘Ja-nee, watter hulpbron is nou meer strategies as water. Vir lewe en vir Groen.’
‘Hoekom dink jy het hulle juis nóu die perskonferensie gehou?
‘Wanneer dink jy gaan hulle ‘n vergadering kry met MMM?’
‘O ja, dis verkiesing. Kom ek voorspel hulle gaan 7 Julie ‘n vergadering kry.’
‘2014?’
‘Hahaha.’
’n Wen-ding vir water?
Die plaaslike- en streeksmedia bespreek die Afriforum verslag, bevindings en aanbevelings word behandel. MMM sê hulle het verslae wat die situasie laat beter lyk, en hulle het planne. MMM wonder hoekom Afriforum die persverklaring voor hul vergadering gehou het, gee nie ‘n vergaderdatum aan die media nie. Die DA wil die waterkwessie Menseregtekommissie toe vat.
Afriforum se Esmarie Prinsloo kondig op 17 April 2014 by afriforum.co.za aan dat ‘n vergadering vir 25 April 2014 tussen MMM en Afriforum geskeduleer is. AF is verras dat MMM wel oor meeste van hul inligting beskik, maar nog niks konkreet gedoen het daaraan nie. AF het MMM gewaarsku dat hulle 7 dae het om die waterbeperkings in te stel, anders gaan hulle hof toe. MMM het nie ‘n keuse om te wag tot na die verkiesing om hierdie onpopulêre stap te neem nie. Dit is óf waterbeperkings nou óf geen water teen September 2014 nie.

Bloemfontein se hart sproei (circleofblue.org)
30 April. Afriforum skryf oor die vergadering tussen MMM, AF, Bloemwater en die Departement van Waterwese:
Waterwese het AF verseker: geen watertekorte teen Augustus nie. AF kry 3 Julie 2014 ‘n verslag oor MMM se stappe geneem en planne. Die MMM burgemeester beskou die saak ook in ‘n ernstige lig, volgens die stadsbestuurder. AF kan deel van ‘n permanente gesprekspaneel word. AF behou die reg voor tot regsaksie.
Bloemfontein se hart sproei
10 Mei. Hy stap in die strate van Dan Pienaar, Bloemfontein. Tweejarige seun op sy rug. 7-uur. Oggend. Eerste werklike winterkoue. Wasem-asems. Musse. Baadjies. Sproeiers in groot, groen tuine maak tsjiekie-tsjiekie-tsjiekie. Water uit ‘n gebarste pyp stroom deur die verbrokkelde teer, na die naaste verstopte stormwatersloot.
‘Duif,’ jil die krulkoppie op die man se rug, ‘duif!’
Deur Werner Schmidt
Werner is ‘n vriend, gade, pa, skrywer, storieverteller, leierskapskonsultant, sanger-liedjieskrywer, universele liefhebber en so aan.
Soek hom gerus op by:
• twitter.com/wernercreates
• facebook.com/wernercreates
• wernercreates@gmail.com
• wernercreates.com
• linkedin.com/wernercreates
Leave a Reply or Follow