Die waghond vir burgerregte, AfriForum, is gekant teen en bekommerd oor die moontlike gevolge van skaliegasontginning in Suid-Afrika.
Hierdie organisasie het ʼn brief aan RoyalDutch Shell en Shell (SA) gerig waarin die maatskappye uitgenooi is om met hulle in gesprek te tree oor verskeie vrae wat deur verteenwoordigers van gemeenskappe dwarsoor Suid-Afrika ingedien is, waarin hulle hul kommer oor skaliegasontginning en hidrobreking (fracking) uitspreek.
Die brief skep die geleentheid om belangrike kwessies soos betekenisvolle openbare deelname, die negatiewe impak op infrastruktuur, besoedeling, bedryfsbestuur, uitlatings oor die gevolge van skaliegasontginning en die gebrek aan behoorlike navorsing te bespreek, het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriFroum gesê.
AfriForum het Shell versoek om alternatiewe vorme van regulering en toepassing te verskaf om te verseker dat wigte en teenwigte ingestel is in geval die regering die proses nie behoorlik reguleer nie. “Ons wil weet of Shell gewillig sal wees om ʼn bepalings-en-voorwaardes-dokument te onderteken waardeur hulle onderneem om AfriForum se lede te vergoed wat negatief deur hidrobreking geraak word. Voorwaardes kan deur oorlegpleging tussen Shell en AfriForum vasgestel word.”
Die Alliansie, wat bestaan uit AfriForum en Treasure the Karoo Action Group, sal voortgaan om skaliegasontginning in Suid-Afrika teen te staan. “Ons sal nie deur ondeurdagte stellings, leë beloftes oor deelname en drogpraatjies deur die land se leiers om die bos gelei word nie. Die impak van ʼn oningeligte besluit soos hierdie op ʼn sensitiewe omgewing soos die Karoo is net te beduidend.”
Ondersteun AfriForum in hierdie inisiatiewe. SMS “Karoo” na 32277. R1/SMS.
Foto:
- Karoo (8 Things to do in South Africa)
Leave a Reply or Follow